DEEL 1: AGTERGROND TOT DIE BOEK.
Hoofstuk 3: Lys van simbole in die Unie.
Ek hou nie baie van die idee van ‘n “lys van simbole” nie, want soos ek in die vorige boek aangetoon het staan elke simbool uiteindelik vir veel meer as wat op die oppervlak lê. Dit sal in elk geval ‘n redelike dik boek verg om ten volle reg aan elke simbool te laat geskied. Ek dink ons plaas onnodige beperkings op die diepte van ‘n simbool deur dit op ‘n té rigiede manier te probeer definieer, en dit is dalk beter om eerder te kyk na wat ‘n simbool doen en waar dit by die ander simbole inpas. Die visioenêre verhaal is baie allegories van aard en dit ontwikkel deur die handelinge wat die simbole uitvoer. So het ek byvoorbeeld aangetoon dat ‘n hoed, skoene, ‘n vlag en ‘n sambreel almal aanduidend van die begrip “regering” is, maar dat elkeen telkens ‘n ietwat ander aspek van “regering” na vore bring. ‘n Mens neem iets van die uitdrukkingsvermoë van die simboliek weg as hierdie soort diepte van betekenis aan bande gelê word. ‘n Hoed en ‘n sambreel is nie dieselfde ding nie, maar tog is albei “sonskerms” wat skaduwee gee en die mens se kop teen die warm son beskerm. Skoene beskerm weer die voete teen dorings en klippe. Maar nietemin, kom ons kyk vlugtig na ‘n paar simbole en sleutelbegrippe wat ‘n rol in die Unieverhaal speel. Die inligting hieronder is nie op enige wyse met mekaar gesinchroniseer nie, want die formaat waarin ek dit aanbied maak so ‘n poging onmoontlik. Hier is ook baie herhalings, maar dit is omdat die simbole uiteindelik op die een of ander wyse na mekaar kruisverwys.
Bandiete:
Verwys na ‘n deel van die bevolking van Noordwes wat vroeg in die verhaal gevangene geneem word en na die oostekant toe weggevoer word. Die tipe hiervoor was natuurlik die konsentrasiekampe van die Tweede Vryheidsoorlog gewees. Die enigste ooglopende verskille is dat daar mans by die groep is en dat hulle in “selle” aangehou word. Dit is sekerlik ‘n heeltemal relatiewe begrip, want visioen [172.03] verwys na “ … ’n Poort waar vele mense in loop net soos bandiete”. Hierdie poort verwys ook na ‘n diep kloof (sloot) wat iewers in Noordwes ontstaan en wat op ‘n “groot gevaar hier” dui. Die sloot vorm op ‘n stadium die agtergrond waarteen die smeltkroes afspeel, want die grond in die sloot (“pad”) word rooi van die Boere se bloed.
Bed:
Ons sien in die visioene hoe ‘n bed op ‘n implisiete wyse so stuk vir stuk opgemaak word. Die verskillende onderdele waaruit die bed bestaan kom te voorskyn as deel van verskillende [ander] gebeure en die implikasie is dat elkeen sy weg na ‘n sekere kampgebied vind. Die dele bestaan uit ‘n matras, ‘n laken, sloop en kombers.
Die Sappe en Engelse voer ‘n staatsgreep kort na die verkiesing in Noordwes uit. Die Bruin Groep se soldate word voorgestel as skape wat na die suide uitwyk, waar hulle in twee kleiner groepe verdeel. Een van hierdie groepe word hiervandaan verder aangedui as mofskape wat na die westekant toe trek. [Die ander groep skape word bruin basterskape genoem en hulle trek na die oostekant.] Die mofskape (Groen Groep) vat hul handbyltjie by die ronde parlement in die suide van Noordwes en trek na ‘n gebied bekend as die kampplek. [Daar is meer as een kamp op verskillende plekke.] Die kamp word opgeslaan in die Kolonie, iewers tussen Warrenton en miskien Kuruman. Die bed staan in ‘n kamertjie, wat ‘n tydelike fort blyk te wees. Maar so sien ons dat ‘n vrou met ‘n bruin rok op haar sy op die bed lê. Die vrou is ‘n alternatiewe beeld vir die klomp mofskape en die simboliek dui hiermee aan dat sy in ‘n veldslag verslaan is. Sy word egter aangevuur deur ‘n nuwe leier en die Duitse hulp wat sy ontvang. Sy staan dan op en ry met haar byltjie in ‘n Duitse motor na die noorde (Lichtenburg) om ‘n doringboom af te kap. Die grond waaroor sy ry is omgeploeg.
Beeste – rooi-bruin:
Sap-soldate.
Beeste – swart:
Indiërs wat “van Indië se koers” hierheen kom.
Boek – blou:
Die Duitsers en Engelse hou op ‘n stadium ‘n [internasionale] vergadering in Pretoria wat soortgelyk is aan die VVO se vredesberaad in Europa. Ons het egter nie enige sigbare inligting hieroor nie. Die visioene stel dit bloot as “die blou boek en die rooi doek kom na Pretoria”. [Sien ook by Doek en Vark]. Ons kan egter duidelik sien dat die blou boek met die wit sambreel en die twee donkerblou-skimmel perde koppel. Hierdie gebeure koppel ook met ‘n kleiner [nasionale] vredesberaad tussen die groepe Boere wat by Rustenburg plaasvind.
Boek – bladsye:
Hierdie simbool koppel met beide die VVO-vergadering in Pretoria en die vredesberaad by Rustenburg. Dit verwys volgens alle aanduidinge na die “amptelike notaboek” wat tydens sulke vergaderings gebruik word. Die rede hoekom ek dit so sien is dat alle gebeure in die verhaal rondom die begrip “staatkundige entiteit” draai. Ons sien in hierdie verband dat die legitieme verkose regering in Noordwes deur ‘n staatsgreep omver gewerp word, maar dat dit weer deur militêre staatsoptrede (met die hulp van Duitsland) herstel word. Hierdie hulp vorm natuurlik deel van ‘n amptelike ooreenkoms tussen Duitsland en die rebelle van 1914, wat in 1942 deur die Duitse regering erken is. Die vrede tussen die verskillende groepe Boere word dan deur middel van ‘n amptelike geskrewe ooreenkoms tydens ‘n beraad by Rustenburg herstel. Ons sien verder ook dat hierdie ooreenkoms op die geestelike vlak deur God Almagtig erken word, soos in die wit kleredrag van ene Jan Pretorius weerspieël word. Dit is moeilik om hierdie karakter se presiese plek in die verhaal te bepaal, maar die feit dat hy by die naam uitgesonder word, saam met ander inligting, impliseer dat hy die leier van die Wit Groep kan wees. Die leser sal dit verderaan in die boek beter verstaan, maar sy naam vorm ‘n soort brug na die betekenis wat die Gelofte van Bloedrivier vir ons inhou. Die Gelofte, wat deur Andries Pretorius geïnisieer is, het bepaalde implikasies vir ons volk meegebring en dit vorm dan ook die sentrale boodskap in hierdie boek. Die praktiese punt wat ek egter wil maak is dat hy óók op die vergadering teenwoordig is, maar hy neem nie werklik daaraan deel nie. Ons kry die indruk dat hy eerder as ‘n soort toesighouer daar optree. Die rol van die boek kom na vore deurdat die oorhoofse gang van die vyand se aanslag teen ons volk daarin opgesom word en dit betrek beide die amptelike vergaderings.
[363×01 27/08/18] Een boek slaat oop,
Ons weet nie waar die boek gestasioneer is nie, maar ons kry die indruk dat dit met die VVO se vredesberaad in Pretoria kan koppel. Daar is een of twee ander verwysings wat met hierdie boek koppel, maar wat nét so moeilik is om te plaas en te verstaan. So het ons ‘n moontlike verwysing na die voorsitter van ‘n amptelike vergadering in die vorm van die hamertjie wat ‘n Speaker, of selfs ‘n Regter gebruik. Ons kry dan ook die indruk dat die volk op ‘n stadium “gevonnis” word, want oom Niklaas sien volgens 005a04 “’n ronde houtjie wat op hom afgaan, wat volgens 005a05 gevolg word deur, “Toe skiet die kanon op mense wat daar uitkom …” Hierdie dinge is op hul beurt gekoppel aan ‘n vertrek wat redelik duidelik na ‘n parlement verwys.
[363×02 27/08/18] die eerste blaai is zwart,
Swart is die kleur van (agteraf) boosheid en dit is die oorheersende atmosfeer en kleur wat tot en met die eerste staatsgreep heers. Dit loop uiteindelik daarop uit dat die volk in Noordwes swart skoene kry om aan te trek.
[363×03 27/08/18] op die tweede zit mense
Dit is ook ‘n redelike geslote verwysing hierdie, maar dit verwys oënskynlik na die vergaderings by Rustenburg en Pretoria. Ons sien moontlik ‘n uitbreiding hierop in die sin dat die visioen waarin hy die deelnemers rondom ‘n [vierkantige] tafel by Rustenburg sien, ook ‘n verwysing bevat na “mense met vere op hul hoede”. Die enigste kandidate hiervoor is die Indiërsoldate vanaf Indië wat hier teen die Boervolk kom optree. Die wit vark van Europa bring die Indiërs met hom saam van Europa af, want hulle is deel van die Statebondsmagte. Ek kan nie sê presies wat hulle daar soek nie, maar dit wil voorkom asof die Indiërs hulself in dieselfde gebou as die Boere by Rustenburg bevind. Die leier van hierdie groep dra ‘n “helmet” en hy staan later by die stukkende muur van die gebou – hy plaas selfs ‘n klip bo op die muur van klip om die gebou. Klippe verwys natuurlik na bomme.
[363×04 27/08/18] en die derde blaai word groot en lang en achterop staat geskrijwe
Dit verwys duidelik na die agteraf komplot wat die Sappe op die Boere se vergadering met die Engelse in Pretoria en Johannesburg ooreenkom. Die Engelse neem op daardie stadium natuurlik in Pretoria deel aan ‘n beraad met die Duitsers, terwyl die eerste rooi Engelse bul in Johannesburg gereedstaan om toe te slaan. Al wat hier moet bykom is dat Jan Smuts volledig deel van die vyand word, en wel in ’n vorm wat op twee maniere voorgestel word. Die eerste is die her-mobilisering van ‘n klomp bont perde, terwyl die tweede een na die ontstaan van ‘n kanonwa verwys. Die kanon staan oorspronklik in Europa met sy bek wat na die Transvaal wys en dit kom na die Unie om met Smuts saam te smelt. Smuts word voorgestel as ‘n wit steen wat in ‘n groter een indraai om een groot steen te word. Die kanon slaan onverwags toe op die parlement in Rustenburg en hierdie aanval sinchroniseer met die onthoringde rooi bul se aanslag op die bruin karre in Johannesburg. Die bont perde trek dan saam met hierdie eerste rooi bul na Noordwes. Die agtergrondkleur van hierdie fase in die verhaal is rooi. Die rooi vlag word deur die bont perde in Noordwes opgetrek en die volk kry rooi skoene om aan te trek.
[363×05 27/08/18] en toe kom ‘n zabel uit.
Dit verwys na die Indiërs wat op hierdie stadium tot die aanval oorgaan vanuit die noordelike deel van Noordwes. Die spoorwegstasie by Zeerust is die mees logiese keuse vir die afspringplek hiervoor, want hulle kom in die noorde [van Noordwes] tussen die berge uit.
Boere:
Dit verwys eksklusief nét na die burgers van Noordwes. Ander terme wat ook net vir Noordwes gebruik word is mofskape en donkies. Dit word onder andere bewys deur die feit dat ‘n groep Afrikaners wat van die Kaap af kom om by die Bruin Groep te kom aansluit bloot as waens en skape aangedui word.
Boom:
Die simbool verwys na twee samelopende begrippe. Die basiese betekenis is een van regering (skaduwee), maar dan meer in die sin van ‘n regering wat op die oorlogsveld tot stand kom. Die soort boom dui die ideologiese grondslag van die groep aan. Bome wat droog word dui op ‘n broedertwis tussen die lede van die groep wat dit verteenwoordig.
Die twee blou [druiwebome] wat in Noordwes en die Noord-Vrystaat opkom, en wat deur Jan-Petrus beskryf word, verskil so ‘n bietjie hiervan, want dit verwys na die twee onafhanklike regerings wat daar tot stand sal kom. Ons vind later in die verhaal ‘n verhaaltjie waar ‘n bui reën in die Vrystaat uitsak, wat volgens visioen [506.03 10/02/21] meebring dat: “… die wingerd wat droog is, bot en gee groen blare”. Die druiwe is egter nog half-ryp as dit in ‘n aanslag teen Johannesburg ingestuur word en dan word dit in ‘n vierkantige blok saamgepers.
Boom – Doringboom:
Dit verwys na die Sappe (verloopte Boere). Die Sappe voer twee staatsgrepe uit in Noordwes. Hul teenwoordigheid daar word telkens aangedui as ‘n doring-boom wat daarheen trek. Met die eerste staatsgreep trek ‘n klomp jong doringbome van Pretoria na Lichtenburg en met die tweede een trek ‘n halfdroë doringboom (Smuts) van Johannesburg daarheen. Die Sap-rebelle word aanvanklik aangedui as droë doringbome by Johannesburg, maar hulle verander in peerbome as hulle tot inkeer kom.
Boom – Garingboom:
Engelse militêre basis en soldate.
Boom – Kameeldoringboom:
Die konserwatiewe regering in Noordwes word vroeg in die verhaal deur ‘n Sap-staatsgreep omver gewerp. Die Boere stel dan ‘n tydelike regering saam wat as ‘n kameeldoringboom aangedui word. Daar ontstaan egter ‘n broedertwis, wat beskryf word as stukke kameeldoringhout wat op ‘n hoop onder ‘n kameeldoringboom gepak word. Die hout raak aan die brand as gevolg van die twis en al wat van die hoop hout oorbly is ‘n groot hoop as. Die lesers wat die visioene al van nader beskou het sal dit herken as die ashoop waardeur die ploeg geploeg het. Die vrouens en kinders wat in die veld wegkruip word simbolies voorgestel as ‘n nes met hoendereiers wat deur die henne onder die hoop hout weggesteek word. Die alternatiewe simbool hiervoor is mofskaap-ooie en lammers wat in die lang gras (bevolking) wegkruip. Die gras raak aan die brand (burgeroorlog) en hulle brand dan op ‘n implisiete wyse dood.
Boom – Peerbome.
Sappe wat oorloop na die Bruin Groep toe. Ons sien op ‘n terugskouende wyse dat die aard en kleur van die Sap-rebel se [swart] kleredrag op hierdie punt in ‘n glansende satynsagte bruin fluweel verander. Dit dui op ‘n implisiete wyse aan dat hy tot bekering kom.
Boom – Perskebome:
Boere-soldate.
Boom – Sipres:
Die perskebome by Pretoria of Rustenburg verander op ‘n stadium in sipresbome. Dit is op hierdie stadium moeilik om die presiese betekenis hiervan te bepaal. Sipresbome word tradisioneel met ‘n begraafplaas vereenselwig en dit kan as sulks op die dood van ‘n klomp geelperskes dui (Boeresoldate). Dit kan egter ook daarna verwys dat die Bruin Groep tot inkeer kom en wit klere aantrek. In die Bybel verwys hierdie bome na
(a) Hos. 14:8: “Efraim, wat het Ek nog met die afgode te doen? Ek het hom verhoor en hou my oog oor hom. Ek is soos ‘n groen sipres; uit My word jou vrug gevind.”
(b) Jes. 55:13 “Vir ‘n doringboom sal ‘n sipres opgaan; vir ‘n distel sal ‘n mirteboom opgaan; en dit sal vir die HERE wees tot ‘n naam, tot ‘n ewige teken wat nie uitgeroei sal word nie.”
Boom – Wilgerboom:
Engelse soldate. In die Unie verwys dit spesifiek na een van die huidige twee senior Britse prinse, wat hierheen kom as goewerneur-generaal om die Britse troon hier te kom verteenwoordig – onthou hier dat die Sappe by hulle aansluit en die RSA daardeur onder Britse heerskappy inbind. Nou, dit is nooit meer as ‘n staatkundige klug nie, want hierdie ooreenkoms berus ten volle op die veronderstelling dat die Sappe die regering deur middel van ‘n staatsgreep met Engeland se hulp sal verower. Dit is dus maar ‘n baie deursigtige rookskerm om Britse imperialisme te probeer verdoesel.
Brief, Briewe:
Koppel ook met “Letters”. Ons sien dat daar drie verskillende blou briewe van Europa af kom. Dit is nie baie duidelik of hierdie briewe dieselfde is as die drie blou kabelgramme waarna Siener verwys het. Siener het gesê dat daar drie sulke kabelgramme [ultimatums] by die parlement in Kaapstad afgelewer sal word. Die agtergrond hiervan is dat die Boervolk op ‘n stadium Duitse heerskappy oor hulle aanvaar en dat die twee Volkstate dus effektief deel van Duitsland word. Die drie kabelgramme is dus ‘n diplomatieke eis dat die Engesle aan daardie gebiede moet onttrek en die Boervolk in rus laat. Die Engesle steur hulle blykbaar nie daaraan nei, want die kabelgramme word opgevolg met drie blou siwwe in die Kaap (militêre veldslae).
Daar kom egter by drie geleenthede ook “pos” van Duitsland af hierheen. Een van hierdie die drie “briewe” is ‘n groen papier met letters op, wat dan verander in ‘n blou doek wat afhang. Die inligting rondom dit dui aan dat die hangende doek in die plek van die voordeur van die parlementsgebou in Rustenburg kom hang. Hierdie deur word met ‘n Engelse-Sap kanon uit sy skarniere uitgeskiet, en die blou doek kom hierheen om die gat te kom toemaak sodat die parlement darem nog kan funksioneer. Die doek verwys na Duitsers met blou klere, en dit is juis hierdie mense wat koppel met die aanvaarding van Duitse regering oor die Boervolk (wat op daardie stadium onder geweldige militêre druk verkeer). Die aanvanklike groen kleur van die doek (papier) dui aan dat die Groen Groep iets met hul koms te doen kan hê. Dit koppel baie direk met die derde fase in die Duitse geestelike ontwikkeling, waar die Duitse kleur in suiwer blou verander. Die globale simbool vir die Duitse hulp wat hieruit voortspruit is “blou steentjies wat in mense verander” en dan hierheen kom in die vorm van ‘n blou Duitse haelstorm.
Die tweede een word beskryf as ‘n “envelope wat hier uitkom” en dit vorm deel van ‘n “pak papiere wat losgaan” en dan kom die brief onder uit. Hierdie brief het te doen met “vier papierjes” wat baie belangrik is, want Siener beskryf hulle as “besonders” en dan sê hy “die papiertjies is by my” (die volk). Ons vind dat dit na vier Boereleiers vewys wat direk met twee donkerblou Duitse skimmelperde saamwerk om die vyand terug te druk en vredesonderhandelinge in Pretoria en Rustenburg af te dwing.
Die derde brief is ‘n papier wat ooprol en dan kom daar ‘n manspersoon uit. Die opgerolde toestand van die papier verwys na ‘n opgerolde blou vlag wat in Europa uitkom en hierheen mik. Die bron hiervan is ‘n rol “jaarterolle” wat in ‘n leë huis (winkel) in Europa lê. Die manspersoon verwys na ‘n Britse rebel, ene Lord General Somebody wat in Europa na die Duitsers oorloop en dan hierheen kom om ons te help. Hy staan ook bekend as ‘n mofbul wat vernader in ‘n vaal bul, en ook as die man in die grys pak klere.
Bul rooi – eerste rooi Engelse bul:
Dit verwys na ‘n onthoringde rooi Engelse bul wat vanaf Europa na Johannesburg kom. Dit word ook aangedui as Engelse waens en ‘n geel slang. Die bul bring ‘n groot klomp jong, half-droë populierbome (jong Engelse soldate) met hom saam wat by Pretoria ontplooi word. Die Bul staan aanvanklik vasgemaak terwyl die VVO-vredesberaad by Pretoria aan die gang is, maar die Sappe maak hom los en dan groei sy horings weer uit. Hy en Jan Smuts slaan ‘n konserwatiewe aanval vanuit die Vrystaat af (regoor Vereeniging, d.w.s. die Sasolburg omgewing) en verjaag die Blou Groep terug na Vereeniging en daarvandaan na die weste aan die Vrystaatkant van die Vaalrivier. Die eerste rooi bul en Smuts draai egter noordwaarts weg in Noordwes in en gaan trek die rooi vlag op by Lichtenburg.
Bul rooi – tweede rooi Engelse bul:
Die kwaai rooi bul val in Europa op die Engelse rebel aan en jaag hom in die vorm van ‘n veldbrand (groot vuur) in ‘n wye draai deur die oostekant na die suidwestekant van Europa toe. Die mofbul kom dan hierheen en hy word deur die kwaai rooi bul agtervolg. Hierdie kwaai rooi bul word ook voorgestel as ‘n kanon wat vanaf Europa na die Unie kyk. Dit kom dan hierheen as ‘n rooi doek (vlag) en ‘n vuur. Die vuur word beskryf as “’n vuur wat nie doodgaan nie” en dit kom steek die Sappe se misvuur by Johannesburg aan die brand (komplot teen die regering van Noordwes). Die rooi doek kom neem aan ‘n VVO-vredesberaad deel saam met ‘n Duitse blou boek, maar val onverwags op die Boereparlement aan as ‘n kanon. Die Boere vlug hierna na die suid-westekant toe.
Bul – rooi-bles:
Hy is die operasionele bevelvoerder van die Duitse magte in Europa. Sy natuurlike vyand is ‘n rooi Engelse koei, wat ‘n simboliese voorstelling is vir die Britse monarg as opperbevelvoerder van die vyandelike leërmagte in Europa. Die wit bles van hierdie bul dui op ‘n bepaalde intieme verhouding met die Boervolk. Siener het byvoorbeeld tydens die rebelletog na Duitswes ook na genl. Louis Botha as ‘n rooi-bles bul verwys. Hy was natuurlik ‘n Boer gewees, maar sy sentimente het by Engeland gelê. Die Duitser is ons baie vriendelik gesind en kom teen die einde van die Europaverhaal hierheen om teen die rooi koei op te tree en haar aanval op die vroue stop te sit.
Byltjie:
Daar is twee handbyltjies in die verhaal en dit verwys na twee staatsbeheerde konserwatiewe militêre magte. Die feit dat daar twee byltjies by die ronde huis van bruin plank lê onderstreep die feit dat die blou en groen groepe aanvanklik in ‘n koalisie staan. Elkeen behou egter sy eie militêre organisasie. Dit impliseer op ‘n redelike ironiese wyse ook dat die twee groepe wel uitmekaargaan (broedertwis), want hulle werk net vir ‘n baie kort rukkie aan die begin van die verhaal saam as ‘n eenheid. Dit toon ook aan dat die kiem van die latere leierskaptwis reeds aanwesig is nog voordat die oorlog begin.
De la Rey:
Genl. De la Rey is die simbool vir ‘n Duitse leier in die verhaal. Hierdie karakter kom soos hy ook in ‘n motor te sterwe. Sien ook by Nonnie.
Diamant – wit:
Daar word baie stories vertel oor ‘n skaapkop-diamant. Daar steek geen waarheid hierin nie, en selfs oom Niklaas se twee seuns is op rekord dat hulle gesê het dat hy nooit van so iets gepraat het nie. Die skrywer A.W.G. Raath haal soos volg aan op p. 240 in sy boek, “Siener van Rensburg en die Rebellie”: “Daar bestaan nie so iets nie. My vader het dit nooit voorspel nie, en as hy dit gesien het, sou ek en my broer, Johannes, daarvan geweet het, want ons twee het jare lank self gedelf .”
Daar is wel ‘n wit diamant in die verhaal, maar die rol wat dit speel het niks met skaapkoppe en geld te doen nie. Dit is eerstens ‘n simbool vir ons komende vryheid, want so ‘n diamant is ‘n baie groot skat om te verkry, maak nie saak hoe groot dit is nie. Dit verwys tweedens na die gebied waarin die oorlog sal afspeel, naamlik die delwerye-gebied. Dit dek ‘n geweldige groot stuk aarde wat strek vanaf wes van Upington oor Kimberley, Warrenton en Lichtenburg tot by Krugersdorp. Dit sê derdens ook dat die verkryging van die vryheid geen maklike taak gaan wees nie. Die ou delwers het letterlik die diamante, soos hulle sê, “met die rugbiltonge uitgehaal”. Hulle het nie veel toerusting gehad nie en moes maar met pik en graaf klaarkom.
Doek rooi – (rooi vlag):
Dit verwys na die tweede rooi Engelse bul. Hy tree aanvanklik hier saam met ‘n blou Duitse boek in Pretoria op. Dié twee simbole voer skynbaar samesprekings om die vrede te herstel – die tipe hiervoor lê in ‘n soortgelyke gebeurtenis by die VVO se hoofkwartier in Europa. Hierdie inisiatief val saam met die vredesberaad tussen die verskillende groepe Boere in die verhaal. Sien ook by Blou Boek en Wit Vark.
Donkies:
Boerekrygers. ‘n Groot groep donkies gaan na Europa om Duitsland te help nadat hul regeringstelsel vernietig word. Die simbool verander na blou muile as hulle daar begin optree, maar verander weer terug in donkies as hulle terug in die Unie is. Dit gebeur “in die draai van die pad”, wat naby Potchefstroom teenaan die Vaalrivier geleë is – die Vaalrivier ís die pad in hierdie beeld.
Droogte:
Die stand van politieke vryheid word deur die lig van die son bepaal. As dit nie reën nie (genade van broederliefde) word die son al hoe warmer totdat ‘n droogte ontstaan. Dit is nie net beperk tot die Boeremagte nie, die vyand ondervind ook droogtes in hul geledere.
Duitsoos:
Dit was vroeër ‘n Duitse kolonie in Oos-Afrika wat na die Eerste Wêreldoorlog in verskillende lande verdeel is. Dit het bestaan uit vandag se Burundi, Rwanda en Tanganyika. Tanganyika as sulks het egter ook intussen verander nadat dit met die eilandgroep teenoor dit saamgesmelt het om die hedendaagse Tanzanië te vorm.
Duitswes:
Ons ken dit vandag as Namibië.
Haelgewere:
Sien by Polisie.
Hoed:
Leier; Regering.
Indiërs:
Word as ‘n swart vark en swart beeste voorgestel. Hulle word ook deur daai gewraakte ou woordjie aangedui, want die swartmense rondom Siener was die tipe vir die Indiërs gewees. Ons kyk dus bes moontlik na die koms van die tipiese “swart Pakistani” Indiërs – dit is in werklikheid die Kusiete waarna die Bybel verwys.
Kamp:
Dit verwys aanvanklik na die hele gebied van Noordwes, maar ons vind dat dit ook na twee kleiner gebiede verwys. Een hiervan is in die meer sentrale deel in die omgewing van Wolmaransstad, terwyl die ander een in die Kolonie geleë is, min of meer tussen Warrenton en Kuruman. Dit maak baie sin, want ‘n kampplek is per slot van sake bloot net ‘n tydelike oornagplek vir ‘n boer wat met sy skape tydens ‘n droogte trek om weiding (groen gras) te soek. Die twee groepe skape wat hierby betrokke is, die mofskape en bruin basterskape, gaan uitmekaar juis as gevolg van die oplaaiende broedertwis. Dit beteken dat die mofskape na die Groen Groep verwys, en die bruin basterskape na die Blou Groep. Ons het bepaalde aanwysers dat die kampplek in Noordwes min of meer in die omgewing van Bloemhof / Wolmaransstad / Potchefstroom geleë is. Sy kombers gaan byvoorbeeld “huis toe en gaan lê op my bed”, en dan sien ons in [047.04], “Die bed is opgemaak. Anderkant die bed kom ‘n hoogte uit en teen die hoogte is die wêreld kaal.” “Anderkant” verwys deurgaans na die noordekant in die visioene, terwyl die hoogte met ‘n “lang opdraand” koppel. Hierdie op-draende (laagte) lê “van suid na wes”. Dit verwys na die moeilike stryd wat vanuit die suidekant tot by Lichtenburg loop. Dit is ‘n steil pad om te loop, want hulle moes teen die Sappe stoei om hulle te verdryf. Die Engelse snel egter die Sappe te hulp, en dan word die vrou met die bruin rok gedwing om na die suide te vlug (o.a. as bruin perde sonder saals). Die wêreld teen die hoogte is kaal, want almal het padgegee omdat ‘n klomp ploeë en ‘n kanon hulle verjaag het. Die vrou met die bruin rok kom lê dan op hierdie bed in die kampplek in die Kolonie. Sy tree hiervandaan vir ‘n tweede maal teen die vyand by Lichtenburg op met haar handbyltjie.
Kanon – laagte:
Engelse militêre optrede in Noordwes. Die kanon tree op in die laagte tussen twee berge. Die vuur “kom so met ‘n punt uit” as dit skiet en dit bring mee dat “die bomme bars tussen ons” en “dooies word op ‘n draagbaar gedra”. Die fort in die weste verander hierdeur in ‘n hospitaal, kompleet met “vyf wit amelans vlae met rooi kruis op” en al. Ons sien hier ook ‘n vertakking na ‘n ander simbool, naamlik druiwemandjies wat by die hospitaal uitgegooi (uitgeskiet) word. Dit wil voorkom asof die kanon en ‘n trein wat tussen twee berge (weerskante van die laagte) ingaan dieselfde funksie kan verrig.
Kanon – VVO komplot:
Daar is egter ook ‘n tweede kanon wat op ‘n heel suggestiewe wyse later in die verhaal optree. Dit word aanvanklik gestel dat ‘n kanon in Europa staan en dat sy bek na die Transvaal wys. Dit is ‘n alternatiewe beeld vir die kwaai tweede rooi Engelse bul. Ons sien dan dat die VVO in ‘n vredesberaad by Pretoria saamkom, maar dat twee wit stene daar “inmekaar indraai” en een groot wit steen word. Dit vorm ‘n Sap-kanonwa wat die Engelse kanon verder vervoer in die Unie. Die kanon loods ‘n onverwagse aanval op die Boere-parlement by Rustenburg en skiet die voordeur uit en die sinkdak van die “verandah” af. Die kanon verdwyn dan en ons sien dit eers weer later as ‘n wa se voorstel in die weste omval. Die militêre mense het destyds ‘n wa se voorstel gebruik om ‘n kanon te monteer en te vervoer. Hierdie kanonwa word naby Kimberley deur die Duitse rooi-bles bul omgegooi. Ek moet egter hier sê dat die kanonwa dalk selfs deur die Amerikaanse magte omgegooi kan word. Hulle tree in Noordwes op saam met die Kapenaars wat na die noorde kom. Hierdie gebeure koppel redelik suggestief met die Indiërs wat in Noordwes kom optree en hulle is die Amerikaners se teikenvyand in die verhaal.
Klippe:
Bomme – sien by Parlement.
Kolonie:
Die huidige Noord Kaap Provinsie asook die verre westelike deel van die huidige Noordwes. Plekke soos Vryburg en Mafeking was voor 1994 deel van die Kaap Kolonie gewees.
Laken:
Dit hou verband met ‘n groot wit doek (vlag) in Europa wat hierheen kom as ‘n tafeldoek. Die bron hiervan is ‘n Duitse pers doek wat wit word in die hande van ‘n offisier wat deel is van die bruin groep. Die pers doek, wat van ‘n sambreel afgeskeur word, versimboliseer die Duitse regering aan die begin van die verhaal. Die wit doek is die banier waaronder die Duitse rooi-bles bul optree, en is ‘n simbool van Vader se ingryping in die gebeure in Europa. Siener het na die laken verwys as “ons Vrede”, en dit koppel met ‘n vredesberaad tussen die strydende Boere-faksies wat kort hierna plaasvind. Hierdie beraad word moontlik gemaak deur die toetrede van die Duitsers tot die stryd hier in Suid-Afrika. Dit kom hierheen saam met twee Duitse donkerblou-skimmel perde (wit sambreel, en ook ‘n vlam met wit rook bo op). Die doek word gebruik om ‘n feestafel te dek met borde, eetgereedskap, en selfs glase met ‘n kraffie helder water op. Die ete bestaan uit mieliepap en ‘n bak varkwors wat saam met die tafeldoek kom, waar die wors na die val van die Europa Regering en die Statebond verwys. Die verwagting op vrede is egter ‘n bietjie voortydig want die vyand slaan onverwags toe en die pap brand dan aan en die wors beland op die grond.
Letters:
Ons lees op verskeie plekke van blou letters wat skynbaar heel onafhanklik optree. Die simbool koppel egter op verskillende vlakke met ‘n klompie briewe wat in die Unie aankom, asook die letters op die kepse van ‘n groep polisiemanne wat hier optree.
Lig – blou (ook ‘n helder lig):
Dit koppel met die vryheid wat die Duitsers vir ons bring. Die simbool ontstaan op die stadium waar Duitsland se regering deur ‘n vierkantige geel wiel platgetrap word. Een van die paar maniere waarop hierdie gebeure voorgestel word is dat onweerswolke in Europa opsteek (oorlog) en die Duitse “sonlig van vryheid” heeltemal verduister. Al wat daarvan oorbly is ‘n dowwe blou skynsel (blou lig) agter die wolke. Die simboliek stel die lig van die son as barometer vir die kwaliteit van die politieke welsyn wat ‘n politieke entiteit ervaar. Vryheid word vergelyk met die helder lig van die son. Enige eksterne bedreiging word voorgestel as dik wolke wat die lig van die son afsny. Onvrede binne die organisasie word weer voorgestel as die son wat al hoe warmer word totdat ‘n versengende droogte ontstaan. Dit vind telkens ‘n oplossing in ‘n hewige storm wat die droogte verbreek. Die droogtes in Europa en die Unie verskil so ‘n bietjie vanmekaar, want die omstandighede en die rolspelers verskil, maar in albei gevalle word dit deur ‘n geweldige Duitse haelstorm beëindig.
Die lig “kom oor ons uit” en skyn aan en af tussen die wolke deur soos die verhaal ontwikkel. Dit verdwyn selfs op ‘n stadium. Die verhaal bereik egter ‘n punt waar die lig agter die wolke uitkom en “nie weer teruggaan nie”. Die Duitse reserwemag trek hierna soos ‘n haelstorm deur die land.
Mandjie – brood:
Die inligting rondom hierdie verwysing dui aan dat die volk letterlik brood van smarte sal eet voordat die vryheid verkry sal word. Die meel waarvan die brood gebak word kom van Boerkoring wat in ‘n meule fyngemaal word. Die meule verwys na die aanslag teen Noordwes. Die brood bestaan dus letterlik uit die liggaam van die Bruin Groep, wat op die simboliese vlak impliseer dat hierdie groep “hulself opeet” in hul poging om die vryheid in eie krag en op hul eie manier te bekom. Die brood word deur ‘n militêre bevelvoerder, Kommandant Els, in sy mandjie gepak. Dit lei uiteindelik tot groot lewensverlies, want die geelperskes en halfryp druiwe wat die militêre manne voorstel word heeltemal verslaan en selfs begrawe.
[647.05 10/01/26] Toe hoor ek ‘n stem tot my sê dat ek van water en brood sal lewe tot dat ek van die vrug sal geëet het.
Hierdie simbool herleef in die vorm van ‘n mandjie wat later in die verhaal vol vetkoek gepak word. Die simbool kan herleef omdat nie al die troepe wat daarmee geassosieer word doodgeskiet word nie. Die vetkoek word in die “olie van versoening” gebak in ‘n groot seeppot wat die broedertwis voorstel. Die olie (vet?) wat hiervoor gebruik word kom suggestief na vore tydens die val van die Europa Regering. Die olie kan dus teruggevoer word na die groot wit vark se vet, want daar is ‘n verwysing na ‘n groot “moot spek” wat Siener van ‘n vark afsny.
Mandjies – druiwe:
Hierdie mandjies word aanvanklik gebruik as houer vir ‘n klomp halfryp druiwe (vanuit die Vrystaat). Hierdie druiwe word soos die halfryp perskes verslaan, want hulle word deur die vyand uitgegooi en in ‘n vierkantige blok saamgepers as ‘n vierkantige geel wiel oor hulle loop. Die twee simbole van halfryp perskes en druiwe wat tot niet gaan word opgesom in ‘n beeld van halfryp vye wat in ‘n vierkantige blok saamgepers word. Vye is ‘n simbool wat na ‘n politieke koalisie, en in ‘n afgeleide sin na staatsleiers verwys.
Die leë druiwemandjies word einde ten laaste ook deur die vyand uit die fort uitgegooi. Dit word dan “daarbuite” deur die volk, wat nou tot inkeer gekom het, opgeneem en na die weste gedra. Hulle trek tot by die see, waar groot (druiwe)mandjies in die water lê (Duitse vloot). Die verhaaltjie sluit ‘n beeld in waar die mandjies uit ‘n diep put uitkom, wat beteken dat die volk van Noordwes deur ‘n uiters haglike situasie moet worstel voordat hulle die ryp druiwe by die Duitsers by Lüderitzbaai kan kry. Hierdie storielyn sluit baie direk aan by ‘n mandjie met brood daarin.
[328.01 18/02/18] Groot mandjies lê aan die kant van die see in die water.
[328.02 18/02/18] Die blou steen van Europa draai hierheen.
Dit verwys na die Duitse hulp wat hier aankom en wat natuurlik tot die verkryging van die vryheid lei. Dit word soos volg voorgestel:
[647.01 10/01/26] Die wingerd loot meen geloof.
[647.02 10/01/26] Lê ‘n tros ryp druiwe langs ‘n sloot
[647.03 10/01/26] en ‘n wit diamant kom in gesig.
[647.04 10/01/26] In 1906 het ek ‘n wingerd loot van Wes sien oor kom en aan die loot het die tros druiwe gehang.
[647.05 10/01/26] Toe hoor ek ‘n stem tot my sê dat ek van water en brood sal lewe tot dat ek van die vrug sal geëet het.
[647.06 10/01/26] Toe kom ‘n vrou mens uit met ‘n groot tros druiwe uit in haar hand voor my.
[470.03 26/01/20] Toe is daar een klomp mense mans en vrouwe en ek is tussen hulle, en ek het ‘n tros druiven in my hand en pluk af en eet.
Mandjie – perskes:
Verwys na die Bruin Groep se militêre magte, wat uit halfryp geelperskes bestaan. Hulle is egter nie instaat om die aanslag te weerstaan nie en die perskes word deur die vyand uit die mandjie uitgegooi. Die perskes word afgeskil en drooggemaak op ‘n sifdraad (vyand), en word dan in ‘n sloot begrawe. Die beeld word afgewissel met geel baadjies wat dood lê. Die leë mandjie kom uiteindelik onder die water in ‘n diep put uit. Ons lees nie verder van hierdie mandjie nie, want die geelperskes tree nie verder in die verhaal op nie. Die oorblyfsels van hierdie groep word hierna in ‘n ander simbool ondervang. Hulle word deur die Duitse blou-skimmel perde en die Engelse rebel bymekaargemaak en herbewapen. Hulle tree dan as [kinder] waentjies op wat tot by Rustenburg vorder, maar ook as ‘n drievoorploeg wat tot by Johannesburg optree (haelgewere).
Marsjeer:
Ons sien ook dat ‘n groep Engelse soldate na die weste marsjeer, want “Die Engelse loop naar die Weste en hulle dra die roer op die skouder.” Dit loop uit op die begin van die tronkverhaal. Ons sien dan ook kortliks die volgende gebeur:
[410.01 01/03/19] Die Engelse loop naar die Weste en hulle dra die roer op die skouder.
[121×03 14/12/15] Engelse gewapen met gewere gaan uit ‘n huis, na ‘n ander klomp mense en toe hulle by daardie klomp mense kom, toe steek hulle almal hulle hande op. (hands up).”
[016.02 12/01/15] ‘n Ketting word aan oom Niklaas en andere vasgehaak.
[036.02 25/07/15] Ek sien my vrou en kinders en ook ander vroumense wat aanmekaar gehak is.
[010.07 28/11/14] Die mense wat hulle aanjaag …
[231.01 06/05/16] Ons mense loop voor en die Engelsman loop agter.
[073.01 15/10/15] Die mense wat hier heen kom daar is een wacht by hen.
Matras:
Ons het slegs een enkele reël wat hierna verwys. Dit dui bloot aan dat die matras gereed is om op reis te gaan.
[123.01 16/12/15] ‘n Vriendelike Engelsman wat my groet. [123.02 16/12/15] Die yard is leeg. [123.03 16/12/15] Die matras is daar buite.
Mes:
Dit is ‘n militêre gevegsgroep, en die aard en kleur van die handvatsel dui die soort mense aan wat dit vashou (aanwend en beheer). Die Amerikaanse mes wat die Indiëse swart vark afslag het ‘n bruin handvatsel, want die Boere wat van die Kaap na die noorde trek hanteer hierdie mes. Die Engelse mes wat die pappotjie skoon krap het weer ‘n geel heffie, en Siener spesifeer dit as “die swaar wat ons onder Jan Smuts gehad het”. Die Sappe neem dus met volle oorgawe deel aan die smeltkroes wat die Engelse aanslag bring.
Mielies – geel:
Dit verwys na Engelse soldate.
Mielies – wit:
Dit verwys, soos wit perde, na Boere sonder om noodwendig eksplisiet aan te dui of dit Nattes of Sappe is. Die verhaaltjie rondom die wit mielies in Noordwes begin by ‘n geveg tussen ‘n klomp wit en bont Boerboontjies. Die bontes verloor die geveg as ‘n bruin perd (Sap-rebel) ‘n sak boontjies oopskeur. Die boontjies verander op hierdie punt in mielies. Dit word gevolg met ‘n verwysing in visioen [521.01] wat sê” “Na die noorde lê wit mielies wat so enkel gesaai is”. Ons sien dan in ‘n kort reeks visioene hoe die jong mielies groei en in mielielande ontwikkel. Ons kom maar eers op ‘n latere stadium agter dit na die Sappe verwys wat in Noordwes oorbly na die aanvanklike poging om ‘n staatsgreep uit te voer. Die Sappe wat op daardie stadium na Johannesburg vlug trek daarheen as swart-baster mofskape (swart koppe). Maar so vind ons ‘n verwysing in [184×03] wat sê: “Baie mielielande, die mielies is nog klein, so omtrent ‘n voet en ‘n half hoog.” Dit word gevolg met ‘n verwysing in [372.01] wat lees: “Die mielies staan groen op die lande zo 2 voet hoog, maar eil, en die mielies raak weg dat daar niks is nie.” Die Sappe raak op hierdie punt betrokke by ‘n broedertwis, wat voorgestel word as ‘n droogte waarin die jong mielies erg deur die son verbrand word. Visioen [514.01] sê: “Die mielies staan eil in die Unie en lyk van die zon verbrand”, terwyl [397.06] aandui dat die mielies heeltemal verdroog en omval. Die Sap-rebel se optrede teen die Sappe vorm deel van die Sap-broedertwis en hy is verantwoordelik daarvoor dat die jong mielies omval. Die Sappe vlug dan na Rustenburg as “aanmekaar gebinde mielies”, waar hulle poog om die nuwe parlementsgebou te beset. Hulle dra swart skoene, swart klere (jasse), slaprandhoede (groot hoede) en patroonbande. Hulle word egter daar deur ‘n klomp verweelbroeke verjaag. Hierdie groep Sappe vlug dan verder na Johannesburg, waar hulle by ‘n ander groep mense aansluit wat swart klere dra en in ‘n kring in ‘n huis sit. Die “kring mense” verwys implisiet na die een of ander soort vergadering en dit vorm deel van die Sappe se komplot teen Noordwes. Die verweelbroeke verwys natuurlik na die ondergeskiktes van die Sap-rebel.
Die laaste deel van hierdie verhaaltjie lyk so:
[001i05] Ek gaan in die direksie van Rustenburg en ek gaan so styl af.
[003b01 06/03/14] Oom Niklaas kom voor ‘n wit huis waarvan die mure vuil is maar toe word hulle skoon en toe word die hele wêreld skoon.
[001f03 /10/13] Hulle wou ‘n kamp maak by Rustenburg maar laat dit toe staan en gaan toe daarmee na Johannesburg, daardie mense het almal swart skoene aan.
[294×01 02/09/17] In Noord Oost is ‘n klomp mielies aanmekaargebind, toe verander die mielies in mense met swart jasse toe gaan die mense reg Oos af in hoge gras en raak toe weg
[038.01 28/07/15] In ‘n huis sit ‘n kring mense en 4 of 5 ander mense met swart klere aan gaan daarheen.
Nonnie De la Rey:
Genl. De la Rey se vrou is ‘n simbool vir die Duitse volk in die verhaal.
Parlement – Boereparlement:
Daar is twee van hierdie geboue in die verhaal. Ons sien in hierdie verband dat alle parlementsgeboue in die verhaal ook as ‘n huis of ‘n fort bekendstaan. In Noordwes verander die eerste fort dan ook nog in ‘n hospitaal as ‘n kanon teen dit optree. ‘n Fort kan egter ook na ‘n gebied verwys, soos die kamertjie of tydelike kampplek in die Kolonie.
Die eerste een waarvan ons lees is ‘n ronde gebou van bruin plank. Die simboliek dui aan dat dit iets soos ‘n tydelike parlementsgebou kan wees wat deur die twee koalisievennote gedeel word. Ons vind dan ook dat die Boere heel aan die begin ‘n meer permanente struktuur van klip (bomme) by Rustenburg oprig. Die kiem van die latere broedertwis word reeds by die ronde parlementsgebou aangetref. Die aanwyser hiervoor lê in die feit dat daar twee handbyltjies by die gebou lê. Een hiervan word later deur die mofskape (Groen Groep) opgeneem om ‘n doringboom (Sap-regering) by Lichtenburg te gaan afkap. Ons lees nooit wat van die ander byltjie word nie, maar ons kan aflei dat die Blou Groep (bruin karre, bruin-baster mofskape) dit in ‘n aanval teen die Sappe by Johannesburg sal gebruik.
Ronde [en ook vierkantige] dinge in die verhaal is nie ‘n goeie voorteken vir die saak waarmee dit koppel nie, want so ‘n aanwyser word spoedig gevolg deur teëspoed. Ons vind verder ook dat planke baie direk met doodskiste en begrafnisse koppel. Die simboliek gee dus hier duidelike aanduidings dat hierdie parlement tot niet sal gaan. Ons kry die indruk dat dit in die omgewing van Potchefstroom sal staan. Die ander parlementsgebou word by Rustenburg opgerig ná die verkiesing afgehandel is en ons kan uit latere gebeure aflei dat hierdie huis deur die Groen Groep opgerig word. Dit bestaan uit mure van klippe (bomme) met ‘n grasdak en dit het hoë trappe wat na die voordeur opgaan. Ons sal nie nou op die simboliese redes daarvoor ingaan nie, maar dit is ‘n kenmerk van die twee parlementsgeboue dat elkeen op ‘n koppie staan – hulle staan dus “hoog”, soos in verhewe. Daar is ‘n aangeboude verandah (stoep) met ‘n sinkdak vooraan die gebou. Die klippe (bomme) hou verband met ‘n wapenfabriek naby Pretoria. Die nuwe regering konfiskeer die geld wat die Sappe van die Engelse vir die verkiesing ontvang het en dit verander in klippe in die bruin grond naby Pretoria. Ek is egter nie so seker dat dit na Krygkor kan verwys nie. Daardie fabriek lê in die huidige Gauteng en sal dus nie deur die konserwatiewes gebruik kan word nie. Hulle sal dus die een of ander oorhaastige poging aanwend om met die produksie van wapens te kan begin. Dit klink dalk vreemder as wat dit werklik is, want tydens die Tweede Vryheidsoorlog het ‘n plaasboer, wat tussen Brits en die hedendaagse Hartebeespoortdam geboer het, ‘n kanon uit die vellings van ossewa wiele vervaardig wat blykbaar goed genoeg gewerk het.
Die boumateriaal van die huis bring ook ‘n ander aspek van die verhaal na vore. Die simboliek gee hierdeur ‘n baie subtiele beskrywing van die psige van die Bruin Groep en dan baie bepaald die Groen Groep. Die gang van die verhaal bewys dat hierdie parlement ook op die valse sekuriteit van oorhaastige militêre voorbereiding en organisasie gevestig word. Hierdie eie-krag neurose lei uiteindelik tot die dood van groot getalle mense in Noordwes, want hulle vernietig hulself letterlik hierdeur.
Perd:
Soos ‘n bul verwys dit na ‘n militêre bevelvoerder (generaal).
Perde – bont:
Verwys na die Sappe en is aanvanklik die direkte teëstaanders van die bruin perde (Boeresoldate). Ons sien in hierdie verband dat die leier van die Sappe, Jan Smuts, direk na die verkiesing as ‘n wit perd (Boereleier) voorgestel word wat by Pretoria staan. Sy knie is slap en hy kan nie regop staan nie, wat daarna verwys dat hy die verkiesing verloor het. Hy kom dan onder die invloed van die eerste rooi Engelse bul wat vanaf Europa na Johannesburg kom. Die ondersteuning wat hy by hulle kry help hom om weer regop te staan. Die wit perd by Pretoria kry dan swart kolle en word sodoende ‘n bont perd. Hierdie perde (gevegsgroep) trek tweemaal na die weste. Hulle verjaag die konserwatiewe bruin perde na die suide, maar word dan self na die ooste verjaag deur die Sap-rebel. Die tweede keer wat hulle na die weste optrek gaan hulle om die rooi vlag op te trek. Die volk in Noordwes kry dan rooi skoene (regering) om aan te trek.
Perde – bruin:
Dit verwys na Boerekrygers, maar dit beteken egter meer as nét soldate, want dit is ook ‘n simbool vir ‘n sóórt oorlogvoering. Die vyand se optrede lei tot ‘n nederlaag wat meebring dat die Boere moet vlug. Dit word uitgebeeld as ruiters wat bloots na die suide vlug. Die verlies aan die saals dui daarop dat hulle hul wapens moes weggooi om vinniger weg te kom. Hulle kry dan nuwe saals by ‘n groep bruin-bles perde.
Perde – bruin bles:
Hierdie simbool verg ‘n kort verduideliking om dit te kan verstaan. Enige dier wat ‘n wit bles dra staan in ‘n sekere naby-verhouding met ons volk. So het Siener na genl. Louis Botha tydens die sogenaamde rebellie verwys as ‘n rooi-bles bul. Hy was die rebelle egter baie vyandiggesind, want die rooi het na Britse imperialisme verwys.
Hierdie situasie lyk egter anders in die visioenêre verhaal. Hier is die Duitse rooi-bles bul, die Engelse Rebel en ook die Sap-rebel voorbeelde van groepe wat ons goedgesind is. Die Engelse Rebel en sy manne word in Europa voorgestel as swart-bles beeste (wit en swart, d.w.s. bont, waar enige voorkoms van bont in die verhaal onder andere op ‘n rebellie dui). Die Sap-rebel se perde kan nét bruin wees, want hy loop na die konserwatiewe kant toe oor. Die verskil tussen die Sap-rebelle en die Boere word deur die wit bles aangedui. Dit pas dan ook by die gang van die verhaal in, want hier is hulle nog op pad (met grawe agter die rug – skelmpies dus) om te kom help as die bruin perde gedwing word om bloots te vlug. Hulle kom grawe die konserwatiewe regeringspomp onder die sand uit nadat hulle die Engelse trein (met die pomp wat daaraan vassit) in die rivier gegooi het.
Die ekwivalente beeld hiervan is ‘n groot swart vark (Indiërs) wat deur die Amerikaners in ‘n kuil water in die Vaalrivier versuip word. Ons sien dieselfde ding gebeur in Europa, waar die Amerikaners ‘n klomp swart beeste (Turk) uiteindelik in ‘n kuil water versuip.
Perde – donkerbruin:
Verwys na die Sappe. Daar word net eenmaal na twee swart perde verwys en hulle staan eintlik heeltemal los van die verhaal. Dit verwys klaarblyklik na twee vyandelike generaals, want die Sap-rebel ry aanvanklik ook op ‘n swart perd. Die enigste ander simbool waarmee die twee swart perde kán koppel is ‘n klompie donkerbruin perde wat deur die Sap-rebel verjaag word.
Perde – donkerblou-skimmel:
Die twee donkerblou-skimmel perde is ten dele reeds bespreek. Hulle kom na die Unie met ‘n skuit en hulle verteenwoordig die tweede golf Duitse hulp wat na die Unie kom. Die veldslag waaraan hulle deelneem word aangedui as ‘n vloer waarop die twee perde die Sap-koring (graansorghum) saam met vier bruin perde (Boeregeneraals) uittrap. Die twee perde word ook aangedui as “die vlam met die wit rook kom na die kop”, wat blyk ‘n wit sambreel te wees. Dit is dan ook die sleutelbegrip wat ‘n VVO-vergadering op ‘n implisiete wyse aandui. Die blou perde koppel verder ook met ‘n groot wit laken, want daar is ‘n verband tussen hul koms en hierdie groot laken. Die simbool van die “wit sambreel” koppel die twee perde ook met ‘n “VVO-vergadering” by Pretoria en ons sien dat hulle gekniehalter word terwyl daardie vergadering aan die gang is. [Die ander Duitse simbool wat met hierdie aangeleentheid te doen het is ‘n Blou Boek.] Hulle word aan ‘n wa vasgemaak aan die begin van die VVO-beraad in Pretoria, wat beteken dat alle militêre optrede op daardie stadium tydelik gestaak word. Ons sien in hierdie verband dat die rooi Engelse bul by Johannesburg ook vasgemaak staan terwyl die samesprekinge aan die gang is. Die twee perde ruk egter los as hulle agterkom dat alles nie pluis is nie en dat die vyand bloot die beraad as ‘n rookskerm gebruik om hulself te posisioneer. Hul bedoelinge kom aan die lig as die Sappe in die strate van Johannesburg met onluste begin. Die twee blou perde kom agter dat die liberaliste e besig is om die rooi Engelse bul los te maak. Hulle ruk dan los en hardloop na die Vrystaat (Sasolburg) om by die Blou Groep te gaan aansluit. Die rede hiervoor is dat die bruin-baster skape (bruin karre) in die Vrystaat hulself suid van Vereeniging regoor Johannesburg bevind, en daarom gouer by die bron van die probleem kan uitkom.
Perde – wit:
Die Boereleiers in die verhaal word almal as wit perde voorgestel. Dit sluit Jan Smuts en [uiteindelik] ook die Sap-rebel in. Smuts word as ‘n wit perd voorgestel wat aanvanklik in Pretoria staan.
Die Sap-rebel word as ‘n wit perd voorgestel wat die staatskarretjie na die weste trek en dit beteken dat hy as leier in die Noordweste aangestel sal word. Die ander manier waarop dit voorgestel word is dat hy in die weste aankom op ‘n swart perd en dat hy ‘n fluweelbaadjie dra. Die bydrae wat hy lewer om die eerste staasgreep te probeer omkeer bring mee dat hy as leier aangestel word. Hy kry dan ‘n vosperd om op te ry. Nou, dit wat hy doen bring bloot tydelike verligting, maar dit gee die konserwatiewes kans om te herorganiseer. Die simboliek verduidelik hierdie tydelike verligting as die son wat net so effentjies deurbreek in die oostekant. [Wolke synde ‘n eksterne bedreiging vir die lig van die son, oftewel staatsvryheid.]
[238.07 24/05/16] In die Oostekant was ‘n dik bank wolke en agter die wolke kom ‘n sterk lig uit, sodat dit helder skyn, maar toe gaan dit weer terug.
[238.08 24/05/16] Ek sien toe koring trek na die Suidekant toe.
(Dit verwys na die trop skape wat deur die vyandelike aanslag na die suide verdryf word. Hulle verdeel daar in twee groepe.)
Die beeld van die wit perd wat die staatskar trek neem op hierdie punt oor by die een van die swart perd wat in ‘n vosperd verander. Die kar se wiel val egter uit en dan word dit baie moeilik om die kar te trek.
[013.05 09/01/15] In ‘n kar trek ‘n wit perd en die kar kom skuins na ons toe.
Dit hou verband met die moframme (Boereleiers) wat die leierskaptwis aanvuur, en hom dus as leier ondergrawe. Die wit perd staan uiteindelik oor ‘n ashoop gespan, nog met sy tuig aan, wat beteken dat die kameelhout vuur (broedertwis) letterlik onder sy pens uitbrand. Hy kom los omdat / nadat die vuur uitbrand en trek dan na die oostekant toe.
Ploeg:
Die vyand kom ook na die weste in die vorm van “osse, ploege en mense” en dan is die hele wêreld in die weste omgeploeg. Osse is soldate, terwyl ‘n ploeg na ‘n groot militêre aanslag verwys – dit maak die wêreld “kaal en skoon” Dit is te verstane, want diegene wat nie doodgemaak word nie vlug van so ‘n groot mag af weg. Die vrou met die bruin rok en die handbyltjie ry met die Duitse motor oor die omgeploegde grond na Lichtenburg se kant toe.
Polisie:
Hierdie mense kom saam met die Duitsers om die Bruin Groep te kom help. Hulle dra kepse met letters op en daar hang haelgewere aan hul saals. Die letters koppel met die Duitsers, terwyl die haelgewere ‘n bepaalde Engelse inslag het. Die haelgeweer is tradisioneel ‘n vuurwapen wat die Britse adel gebruik om eende in die vleigebiede van Groot Brittanje mee te jag. Hierdie simbool verwys duidelik na die Engelse rebel. Hy is skynbaar ‘n generaal van adelike afkoms, want hy word “saam” met een van die twee senior Britse prinse in visioen 088 gegroepeer. Die karakter met die baard in die visioen hieronder verwys na die rebel. Sy baard word later hier deur die vyand afgeskeer (verloor ‘n geveg). Die ander een met die hoed verwys na die hoof van die Statebond en dan baie bepaald na die tweede mees senior Britse prins. Ons vind later dat die hoed na ‘n baie deftige pluiskeil verwys. Die kroonprins kom te sterwe in die suidooste van Europa, kort nadat die “gelyke wit pad” voor die Duitsers oopgaan. Dit lei tot ‘n geveg wat die prins en sy manne na die suidooste laat vlug en die Duitse haelstorm in Europa slaan hom daar dood. Die persoon met die hoed (regering) hieronder kom na die Unie as ‘n goewerneur-generaal om Brittanje se belange hier te verteenwoordig.
[088.01 03/11/15] Hy is tussen die Duitsers hulle is plesierig. Die man met die swart baard kyk hierheen.
[088×01 03/11/15] Ek sien ek is tussen die Duitsers en hulle is baie plesierig. Die man met die swart hoed die kyk hierheen.
Ons moet hier verder ook in gedagte hou dat Siener gesê het dat die monarg van Engeland aan die begin van die verhaal tot sterwe sal kom en dat daar dan ‘n stryd tussen die twee prinse oor die troon sal ontstaan. Ek kan nie regtig sê dat ons hierdie gebeure “nét so” in die verhaal kan identifiseer nie. Van my kant af gesien kan dit hoogstens as ‘n bykomende aanwyser van die komende oorlog gesien word. Die man met die hoed hierbo vlug later van Pretoria na die suide as die Duitsers en Transvalers die vyand begin verdryf. Ons kan op grond van ander inligting aflei dat hy eers na Johannesburg vlug en daarvandaan na Vereeniging.
[328.03 18/02/18] In Pretoria kom ‘n dik garingstomp uit wat verdroog is en trek af na Suide toe (Goevernement).
[328x03S 18/02/18] In Pretoria kom een dik gareng stomp uit en verdroog en trek af na Zuide (Goeverneur).
Maar om terug te kom na die verband tussen haelgewere en die Britse adel, is dit interessant om daarop te let dat die (nakende) vyand wat aan die einde van die verhaal na Suid-Afrika vlug beskryf word as “eende wat skielik uit ‘n sloot uitvlieg”, asook “kaal mense wat uit die sloot vlug”. Naaktheid beteken dat jy nie net jou regering verloor het nie, maar, in Bybelse terme gesien, dat jy letterlik alles verloor het – soos o.a. in Openbaring uitgespel word. Hierdie vlugtog en die gebeure in die sloot (pad, rivierbedding) hou verband met ‘n Duitse haelstorm (Duitse reserwemag) wat hierheen kom om ons vyande vas te trap. Die ander sy hiervan is dat die Sappe óók beskryf word as “klein eenkies wat deurmekaar van kleur is” (bont).
Maar so sien ons in [479.02] dat die Boere haelgewere gebruik om ‘n aanval op Johannesburg te loods (“Ek en Nicolaas staan met dubbel loop haal geweers en mik op Johannesburg.”) Die haelpatrone hiervoor kom van ‘n man met grys klere wat sy patroonband daar afhaal. Visioen [424.03] sê dan: “en toe is die hele wêreld in die Ooste net patronen.” Die Engelse rebel kom hierheen as ‘n mofbul (swart en wit bont – blanke man met ‘n swart baard in visioen [088.01]), maar hy word dan vaal by ‘n garingkraaltjie. Grys is ‘n Engelse kleur in die verhaal en lyk dieselfde as vaal in die halfdonker. Die kraal verwys na ‘n Engelse militêre groep wat iewers naby Upington en/of Warmbad in Duitswes gestasioneer is. Ons sien dat twee Engelse [daar] met mekaar stoei en “die een met die rooi jersie val onder”. Ons kan hieruit aflei dat dit die beginpunt van die Engelse Rebel se veldtog in die RSA is, want hy hardloop hiervandaan na Johannesburg se kant toe. (Dit gebeur terwyl die vyand op die Bruin Groep in die laagte tussen die twee berge toeslaan aan die begin van die Unieverhaal).
Sabel:
Hierdie is ‘n pragtige voorbeeld van hoe ‘n simbool aangepas word om na iets anders, maar nogtans soortgelyk aan die oorspronklike te verwys. ‘n Sekel verwys na ‘n westerse militêre gevegsgroep, maar die simboliek dra hierdie begrip so amper ongesiens oor na die Indiërs wat hier kom optree. Siener sê aanvanklik: “… ‘n sekel kom voor ons uit [in die noorde]”. Hy kwalifiseer dit dan deur verder te sê: “Die sekel is krom”, en dan sê hy uiteindelik in [179.03] “Die zabel wat zoo hoog uit kom aan die Noorde kant.” Dit word dan opgevolg met twee ander verhaaltjies waarin die detail van die Indiërs se optrede aangedui word.
Sambreel – wit:
Dit kom saam met die twee Duitse donkerblou-skimmel perde vanaf Europa. Hierdie simbool word in Europa aangetref heel aan die begin van die verhaal en ons kom (later) agter dat dit aanvanklik ‘n pers sambreel was (regering). Die vierkantige geel Engelse wiel wat deur Duitsland beweeg veroorsaak egter dat die pers doek “afgeskeur” word, want die verhaal verwys op ‘n terugskouende wyse na die geraamte van die sambreel. Dit dui daarop dat die Duitse regering tot niet gaan tydens hierdie gebeure. Die geraamte van die sambreel loop parallel aan die mensgeraamtes wat die vierkantige wiel agterlaat as dit deur Duitsland stamp-loop. (Die vierkantige wiel bestaan uit ‘n vierkantige blok springbokke). Die pers doek begin dan wit te word en word uiteindelik heeltemal wit in die hande van ‘n offisier van die bruin groep wat daar staan. Hy word soos volg aan ons voorgestel:
[456.01 15/10/19] In Europa staan ‘n man bietje bruin van kleur in zyn gezicht met sy hande oop.
[152.01 22/01/16] Die man met die bruin snortjie.
[152.02 22/01/16] Ek is by my suster in die huis.
(Sy suster se huis, oftewel parlement, is natuurlik in Duitsland.)
Die kleure bruin en wit word hier baie mooi teen mekaar afgespeel. Die bietjie bruin verwys na die relatiewe grootte van sy bruin snor teen die groter wit gesig. Die kleurskakering van “bietjie bruin” verwys dus na die groeiende invloed wat Vader se kleur Wit op die politieke kleur Bruin begin uitoefen. Maar dieselfde voorkoms tree ook in werking ten opsige van die Duitsers. Die doek wat so wit word dui ook op die beginstadium van die Duitse geestelike verdieping en bekering tot Vader. Hierdie verdieping (verootmoediging) vind plaas as gevolg van die smeltkroes waardeur Duitsland gaan as die vierkantige Engelse wiel hulle plattrap.
Die geestelike invloed wat vanaf die kleur wit uitgaan eskaleer hierna en lei uiteindelik tot ‘n verpletterende nederlaag vir die Duitsers se Engelse vyande. Dit bring mee dat die Duitse sambreel weer “herstel” word, maar ook tot inkeer kom, want ons sien dit weer uitkom as ‘n wit sambreel op die stadium waar die Europa Regering en die Statebond tussen twee digte lanings garingbome verslaan word. Dit is die twee veldslae waar die vyand se bloed soos stormwater tussen die graspolle sal deurloop. Die wit sambreel, wat ook as ‘n “wit dameshoed” aangedui word gaan dan na “die Weste” (Genevè), waar Duitsland as ‘n “vrou met ‘n wit hoed en ‘n sluier” aan die VVO se vredesberaad deelneem.
Die wit sambreel kom dan na Suid-Afrika saam met die twee donkerblou-skimmelperde. Dit kom egter nie nét om aan ‘n internasionale vredesberaad in Pretoria deel te neem nie. Ons sien in hierdie verband dat die Duitse sambreel (ook twee blou perde) ook aan ‘n reeks militêre optredes kom deelneem as ‘n vlam met wit rook. Die vlam (sambreel) “kom na die kop”, wat duidelik na die koppie noord van Lichtenburg verwys. Dit trek daarvandaan na die oostekant, waar dit ‘n geel Engelse wiel laat omval tussen Rustenburg en Pretoria. Dit gaan dan verby na Pretoria om aan die vredesberaad deel te neem as ‘n Blou Boek.
Nou, hierdie sambreel, of dan liewers die wit doek van die sambreel, speel ook op twee ander vlakke ‘n rol. Dit word ook as ‘n laken voorgestel en Siener het daarna verwys as “ons vrede”. Dit het in ‘n afgeleide sin te doen met die vredesberaad tussen die Boere by Rustenburg. Die begrip “wit sambreel” verwys na die Duitse regering se aandeel in hierdie gebeure, wat natuurlik na die Traktate van 1914 terugverwys. Die vredesberaad tussen die strydende Boere en Sappe by Rustenburg lei tot ‘n getekende ooreenkoms, maar dit word heel gou deur die Sappe opgeskeur. Die simboliek dui dit aan as ‘n staking, maar ons kom gou agter dat dit in werklikheid beteken dat die Sappe teen die ooreenkoms rebelleer. Die begrip staking hou hier verband met onluste wat deur die Sappe in Johannesburg se strate van stapel gestuur word. Nodeloos om te sê dat alle vrede daardeur tot niet gaan.
Die wit doek het egter ‘n verdere funksie ook. Ons sien in Europa, kort ná die val van die Europa Regering, die volgende toneeltjie afspeel:
[030.02 25/06/15] ‘n Groot klomp mense in Europa gaan na die Weste kant en ‘n wit vlag kom so agter hulle uit, en ‘n rooi bles bul soos ‘n gedaante.
Die mense wat so vlug verwys na die oorblyfsels van die vyand in Europa en die wit vlag na ‘n doek wat oorspronklik deel van die (pers) Duitse sambreel (regering) was. Die bul verwys na die bevelvoerder van die Duitse landmagte en ons kan hier duidelik sien dat hy onder “Vader se banier” optree.
Sekel:
Verwys na ‘n militêre gevegsgroep. Sien ook by Sabel.
Sif – Siwwe:
‘n Sif verwys na ‘n veldslag wat plaasvind en ons vind vier verwysings na so ‘n sif in die Unieverhaal. Twee hiervan sê bloot dat ‘n sif in Johannesburg en die Vrystaat na vore kom en dit verwys na twee veldslae waarin ‘n groep bruin karre (bruin basterskape) deur die eerste rooi Engelse bul verslaan word. Die eerste veldslag vind in Johannesburg plaas en die tweede net suid van Vereeniging in die Vrystaat. [Dit is miskien waar die duimsuigstorie vandaan kom dat Siener na ‘n petrolfabriek by Sasolburg verwys het. Dit is egter nie waar nie, en SASOL se petrolfabriek by Sasolburg het in elk geval intussen toegemaak en verskuif.] Die derde een verwys na ‘n geel sif wat op ‘n Engelse vrou se kop “loop”. Dit is ‘n groep springbokke wat ‘n groepie mofskape (koring) agtervolg nadat die mofskape ‘n tak van die doringboom by Lichtenburg afgekap het. Hierdie groepie vlug al langs die Oranjerivier tot in die woestyngebied wes van Upington. Hierdie drie verwysings word elders in hierdie boek in meer diepte bespreek en die vierde verwysing na ‘n sif verdien daarom meer aandag.
Die gang van die verhaal impliseer dat die Duitse vloot van Lüderitzbaai af na Kaapstad gaan nadat hulle die Duitse soldate en oorlogstoerusting afgelaai het, en dat die Duitsers ook daar aan wal gaan. Daar vind dan drie veldslae plaas, wat beskryf word as drie siwwe wat “klein entjies bo mekaar uitkom”. Die gebeure word fyner beskryf aan die hand van ‘n vark wat aan ‘n vlagpaal hang en met ‘n slagtersmes “gekloof en afgestuk” word. Sy skoene kry dan nuwe blou oorlere op waarvan die vleiskant van die vel “kort uitgewerk” is. Dit dui natuurlik daarop dat die aanvalle op die vyand in die Kaap baie gefokus en gekonsentreerd sal wees.
Die agtergrond hier is dat die eerste Sap-staatsgreep omgekeer word as twee blou Duitse skimmel perde kom help en die volk dan nuwe Boerevelskoene kry om aan te trek. Die vyand slaan egter wéér toe en dan val die spykertjies uit sy skoene uit en word dit “als gesmelte lood” (smeltkroes). Dit beteken dus dat sool en oorleer geskei word en hy effektiewelik kaalvoet word. Hy word dan gedwing om rooi skoene aan te trek as die vyand hul rooi vlag in Noordwes kom optrek. Die derde golf Duitse hulp kom dan aan en die vark by die huidige nasionale parlement in Kaapstad word afgeslag. Die wit kleur van die vark verander dus na blou, en die stukke vel word dan as blou oorlere op die kaal sole vasgesit. Die volk se rooi skoene word dus vervang met Boerevelskoene wat blou oorlere op het. Dit sluit aan by die blou doek (Duitse haelstorm) wat oor die Boere-parlementstoel gedrapeer word en bevestig op ‘n onafhanklike manier dat die volk op hierdie stadium van die verhaal Duitse regering (heerskappy) oor hulle aanvaar. (Die simbool van ‘n sloop speel ‘n bepaalde rol in hierdie verhaaltjie. Ons sien in die verhaal dat die verweelbroeke by die parlementsgebou in Rustenburg se deur uitgaan op die punt waar die Engelse-Sap kanon op die huis lostrek. Die agterste verweelbroek het ‘n sloop in sy hand waarin twee “zwarte spijkers” is. Die kanon se optrede vorm deel van die optrek van die rooi vlag in Noordwes, wat natuurlik die Boereregering tot niet laat gaan. Dit verwys na die [swart geroeste] skoenspykertjies wat hulle saam met hulle dra, en wat suggestief weer gebruik word om die blou oorlere op die skoensole vas te sit.)
Die vyand vlug na hierdie veldslae vanaf Kaapstad na Vereeniging in die vorm van geel karre wat deur ‘n hand aangestoot word (Gees van verskrikking) en ook as ‘n geel wiel wat tot op sy naaf in die grond weggesak is. Die Duitsers straf hulle dus baie swaar terwyl hulle vlug.
Skape – mof:
Mofskape verwys na konserwatiewe mense wat binne Noordwes optree. Die skape (Blou en Groen Groepe saam) word aanvanklik deur die vyand vanuit die noorde na die suide verjaag. Die trop verdeel daar in twee groepe, naamlik mofskape en bruin-baster skape. Die mofskape trek na die westekant toe, waar hulle ‘n tydelike kamp in die Kolonie oprig. Die gang van die verhaal wys die mofskape as lede van die Groen Groep uit. [Die ander deel van die skape, wat as bruin basterskape voorgestel word, word hieronder behandel.] Die leiers van die mofskape loop natuurlikerwys voor, maar ons sien dat daar ‘n paar geel bokke tussen die leiers is en dat hulle dan ook in skape verander. Dit beteken dat die leierskorps van hierdie groep deur die vyand geïnfiltreer word, want geel bokke verwys na die Engelse. Ons sien dan ook dat ‘n klein swart seuntjie, wat ‘n “bose saak” versimboliseer, op hierdie tydstip van Europa af daar aankom. Die tipe hiervoor was genl. Louis Botha, wat ‘n vrymesselaar en ‘n baie getroue royalis was. Die skape word op hierdie punt ook voorgestel as ‘n vrou met ‘n bruin rok wat op ‘n bed in die kamp lê. Die mofskape kies op hierdie stadium ‘n nuwe leier en dit blyk duidelik dat hulle ‘n verraaier as leier aanstel – ‘n seuntjie is ‘n simbool vir ‘n leier in die visioene. Die Duitse hulp kom op daardie stadium ook daar aan. Die vrou gebruik dan die Duitse motor om haar byltjie (militêre groep) na Lichtenburg te vervoer om die Sap-doringboom wat daar staan te gaan afkap. Die leier besluit met ander woorde om ‘n teenaanval teen die vyand te loods om die regeringsmag te herwin. Die doringboom se volgelinge, ‘n klomp jong doringboompies wat van Pretoria afgekom het, staan op hierdie stadium twee berge vol in daardie omgewing. Die vyand konsolideer egter hul posisie deur die twee berge (militêre basisse) in een enkele berg saam te voeg. Die byltjie slaag daarin om die jong doringbome af te kap en hulle vorder selfs tot in die kalkagtige omgewing by die koppie noord van Lichtenburg. Die ekwivalente verhaaltjie hiervoor dui egter aan dat hulle net daarin slaag om ‘n tak van die doringboom af te kap voordat ‘n Engelse teenaanval hulle dwing om met die motor na die verre weste te vlug. Die afgekapte doringboompies word dan met waens na Johannesburg vervoer waar hulle in ‘n groot ronde hoop gepak word en verdroog. Die Engelse rebel steek die hoop hout aan die brand tydens sy aanslag op Johannesburg, en dit brand uit.
Die mofskape word in twee kleiner groepies verdeel in die proses en hulle word dan ook deur twee verskillende soorte vyand agtervolg. Een klomp trek die geel baadjies uit en vlug in geel broeke en grys onderbaadjies, terwyl die ander klomp die geel broeke uittrek en in grys onderbroeke en geel baadjies vlug. Almal van hierdie mense is dus nog steeds halfgeel aangetrek. Die klomp met die geel broeke vlug na Warmbad in Duitswes. Hulle word deur ‘n vierkantige geel wiel platgetrap en baie van hulle verloor hul lewens. Die manne in die grys onderbroeke vlug na die suidwestekant toe, en trek al langs die Oranjerivier op tot anderkant Upington by Noordoewer. Hulle word deur ‘n geel sif agtervolg en dit lyk asof hulle relatief ongeskonde by Noordoewer aankom. Daar word ‘n toneeltjie in die verhaal beskryf waar die grys onderbroeke oor die Oranjerivier oortrek met behulp van ‘n vlotkatrol. Dit, as ‘n gebeurtenis, het natuurlik deel gevorm van die rebelletog van 1914. Hulle word daar voorgestel as koring wat op die [woestyn] sand uitkom met fyn klippertjies weerskante. Dit dui suggestief op die werking van die geel sif. Die Engelse rebel maak hulle bymekaar, want hulle kry melk by ‘n mofkoei (mofbul se vrou, oftewel “volk”) en hulle val saam met hom aan op Johannesburg (haelgewere). Die oorblyfsel van die manne met die geel broeke en grys onderbaadjies word suggestief deur die Duitsers bymekaar gemaak, want ons sien kort hierna dat die twee blou-skimmel perde die Sap-koring [graansorghum] op ‘n vloer saam met vier bruin perde (Boereleiers) uittrap. Dit lei daartoe dat die vyand se geel waens na Pretoria vlug en ‘n geel wiel (vyandelike gevegsgroep) tussen Rustenburg en Pretoria omval. Die wit sambreel (blou boek) trek dan daarvandaan verder om die VVO-beraad in Pretoria by te woon.
Skape – bruin baster:
Dit verwys na die Blou Groep en ons het hierbo gesien dat hulle in die suide van Noordwes van die mofskape afgeskei het. Hulle beweeg na die oostekant toe en trek deur die Vrystaat tot naby Vereeniging. Hulle verdwyn vir ‘n ruk uit die verhaal uit en ons sien hulle eers weer optree net voor die tweede (rooi) staatgreep uitgevoer word. Die twee Duitse blou-skimmel perde word gekniehalter vir die duur van die vredesberade, maar hulle ruk los as hulle die liberaliste en Engelse se planne agterkom. Die twee perde hardloop dan na hierdie groep skape by Sasolburg toe en organiseer ‘n blitsaanval op die Sappe en die eerste rooi Engelse bul in Johannesburg. Hierdie groep val op Johannesburg aan in die vorm van bruin donkiekarre. Die aanval misluk egter en hulle word gedwing om terug te vlug na hul basis by Vereeniging. Die vyand val daar ook op hulle aan en slaag daarin om die skape na die weste te verjaag. Dit word voorgestel as die Vaalrivier wat afkom en wat dan oor die westelike wal spring waar daar ‘n “draai in die pad is”. Die padstelsel in die verhaal bestaan uit die droë beddings van die Vaal- en Oranjeriviere. Die vloedwaters kan net uit ‘n “dam” by Vereeniging kom, en dit kom uiteindelik tot rus in ‘n groot pan in die Kolonie. Die manne wat daar tot rus kom dra almal vaal hoede (konserwatiewe regering).
Ek kan nie sê presies waar en hoe vêr die vloedwaters sal stroom nie, maar dit behoort hulle iewers aan die westekant of noordwestekant van Warrenton te bring. Die Duitse rooi-bles bul kom uiteindelik tot hul redding in die vorm van Duitse vliegtuie wat by hulle kom land. Dit word voorgestel as makoue wat in die pan inhardloop, met ander woorde, lugsteun van die Duitse vliegdekskip af. Die bruin basterskape wat tot daar gevlug het speel weer ‘n rol in die gebeure as die draad naby Wolmaransstad met ‘n silwer Duitse tang losgemaak word.
Skape – swart baster:
Swart basterskape (mofskape met swart koppe) verwys na die Sappe (liberaliste, globaliste). Hulle tree aanvanklik in Noordwes op as ‘n onafhanklike groep. Die aanslag wat hulle aanvoor bring mee dat die volk uiteindelik swart skoene kry om aan te trek. Hierdie skape word egter vroeg in die verhaal na Johannesburg verdryf. Hulle skep ‘n miswerf daar en pak dan ‘n misvuur aan wat deur die Engelse aan die brand gesteek word (komplot-vorming teen die konserwatiewes). Hulle kom dan weer terug na Noordwes as ‘n half-droë doringboom wat saam met die eerste rooi Engelse bul teen die bruin karre by Vereeniging optree.
Skoene:
Regering. Die kleur van die skoene dui die aard van die ideologie aan.
Springbokke:
Verwys na Engelse regeringstroepe. Hulle kom as ‘n “vierkantige blok”, maar verdeel dan in twee groepe om twee putte te vorm (berge; haglike situasies). Hierdie groepe agtervolg die vlugtende mofskape (Groenes) in die vorm van ‘n geel sif en ‘n vierkantige geel wiel.
Spitvurk:
Die Sap-rebel verrig ook ‘n bykomende funksie in die vorm van ‘n spitvurk wat die “vuilegoed” (vaal bossies; Sappe) in die weste uitskoffel.
Trein:
Dit verwys in die algemeen na ‘n militêre afdeling op reis. Vir ons doeleindes hier verwys dit na ‘n groep Engelse soldate wat met ‘n groot gedruis na die weste reis om die Sappe te gaan help (vuur val uit hom uit en sy rook trek op die berge). Die trein trek tussen die berge in wat die laagte begrens (grondgebied van die twee republieke). Die twee berge verwys egter ook in ‘n afgeleide sin na twee putte wat tussen Bloemhof en Lichtenburg ontstaan. Hierdie twee putte ontstaan as ‘n “vierkantige blok springbokke” in twee groepe verdeel. Ons sien hier dat die trein met ‘n waterpomp (konserwatiewe regering) deurmekaar raak en dat albei onder die water verdwyn (in die Vaalrivier). Die Sap-rebel en sy manne kom daar aan “met grawwe achter hulle ruggen” en steek die pomp weer oop en skoon. Dit dui daarop dat die Sap-rebel nie net by die herstel van die konserwatiewe regering betrokke sal wees nie, maar dat dit dalk ook hy kan wees wat die trein in die rivier versuip.
Vark – wit:
Dit verwys na die Europa Regering en die Statebond. Siener het ook na hierdie vark verwys as “die kapitalis”. Hulle wil volle beheer oor ons nasionale bates verkry. Die vark kom na die Unie as deel van die VVO-vredesending. [Ons kan aflei dat ‘n groep Indiërs saam met hierdie wit vark sal kom. Daar is ‘n tweede groep Indiërs wat óók in die verhaal sal optree, maar hulle kom klaarblyklik direk van Indië af. Siener het gesê dat die vyand einde ten laaste van Vereeniging af na Durban vlug, waar hulle dan op skepe sal vlug. Dit kan net na Indië se militêre vloot verwys, want Engeland se vloot word in Europa vernietig.
Vark – swart: Sien by Indiërs.
Verweelbroeke:
Die ondergeskiktes van die Sap-rebel wat na die Bruin Groep oorloop.

Scroll to Top